Skryfgeheime-studente word gepubliseer
Skryfgeheime-skryfskool
April 2020

Beste, billikste, meeste gepubliseerde studente

www.skryfgeheime.co.za
Nuusbrief-argief
 
Covid-19-skryfkompetisie. Nuwe publikasies. Nuwe stemme. Kyk uit vir die 12-maande-plan.
 
!!! SKRYFKOMPETISIE !!!
 
Hoe reageer jy en die mense om jou op Covid-19? Verveeld? Bang? Kwaad? Bekommerd? Geskok? Verward? Sien jy visioene en vergesigte? Watter scenario's speel in jou gedagtes af? 
 
Gaan kreatief om met Covid-19 en skryf die virus uit jou sisteem.
Jy het 1 500 woorde.
Prysgeld: R1 000 aan die wenner.
Lekker skryf.
 
Thamara Erasmus presteer met haar Valentynsbrief
Thamara skryf:
 
"Ek is baie opgewonde, ek het LitNet se Valentynsdagkompetisie gewen met my poging! Dit beteken vir my ongelooflik baie en moedig my opnuut aan. Dit voel nogals lekker vir hierdie wannabe skrywer om te weet dat iemand soos Lina Spies dink haar poging is goed genoeg vir 'n wenslag."
 
Thamara en Karien is tans besig met die Algemene Kreatiewe Skryfkursus.
 
Lees meer
Karien Allers publiseer by Huisgenoot
Karien skryf: 
 
"Goeie nuus! 'n Kortverhaal het onder my nooiensvan in Huisgenoot van 20 Februarie verskyn, 'n heel ander tipe verhaal as die drie wat voorheen in Vrouekeur verskyn het. Ek het weer heelwat uit die proses geleer. 'n Paar jaar terug het ek die verhaal vir 'n kompetisie ingeskryf, maar dit het nie die paal gehaal nie.
 
"Die karakters het egter in my kop bly spook. Ek het weer en weer aan die storie geskaaf, en dit uiteindelik verkort om te voldoen aan Huisgenoot se voorskrifte. Huisgenoot het twee veranderinge aangebring, waaruit ek weer geleer het, al het ek met die een nie saamgestem nie."
 
Skryfgeheime-studente gesels
 
ONS WAARBORG: 
Jy werk teen jou eie pas in jou vrye tyd op 'n een-tot-een basis aan kursusmateriaal met 'n stapsgewyse opbou, van die vind van 'n idee tot en met 'n voltooide manuskrip (verhaal of artikel).
* Jy ontvang breedvoerige terugvoer op elke werkstuk deur 'n ervare, gegradueerde joernalis of 'n bekroonde skrywer-vertaler BINNE SEWE DAE nadat jy 'n skryfstuk ingestuur het.  
* Jy ontvang alle moontlike hulp en leiding om deur 'n erkende nasionale tydskrif of uitgewer  gepubliseer te word.  
* Jy geniet die gemoedsrus van ons geld-terug-waarborg. Dit beteken jy kry al jou geld terug indien jy voel jou kursus was nie die moeite werd nie.
 
12 maande en jou boek is op jou rekenaar
 
 Maak 2020 jóú jaar en skryf daardie boek wat al so lank in jou sluimer. In Januarie het jy weggespring met die vind van 'n idee wat jou lesers sal ontstem, ontstig, bekoor en/of ontstel. Nou moet jy dit verder voer. [Psssst, het jy dalkies ’n nuusbrief of twee misgeloop? Klik hier.]
  
APRIL
Struktuur gee skop
 
Almal is nie ewe goed daarmee om hulle gedagtes te struktureer en planmatig op papier te plaas nie. Maar om te slaag moet die eindproduk 'n sterk strukturele onderbou toon en die nodige storie-elemente bevat. Struktuur verleen op vele vlakke ondersteuning langs 'n wankele skrywerspad.
 
Die skrywer Dean Koontz maak staat op hierdie eenvoudige storiestruktuur: 
* Dompel die protagonis in 'n probleem: val daarmee weg, sonder om enige agtergrondsmateriaal te verskaf.
* Sorg dat die protagonis se pogings om die probleem op te los alles laat vererger.
* Laat dit alles afstuur op die swart oomblik wanneer dit lyk asof die karakter sal ondergaan.
* Uiteindelik, na ’n gespartel, slaag die karakter se finale poging en die einde volg.

’n Ander manier om bostaande te beskryf: ’n aanvangsprobleem, 'n oomblik van verandering, ’n reeks eskalerende krisisse wat die spanning laat opbou, ’n klimaks, ’n afloop. Die hoofdoel van dit alles? Om die leser aan die keel te gryp en tot aan die einde toe mee te sleur.

Randy Ingerson volg die sneeuvlokmetode:
Stap 1. Som jou verhaal op met een skerp, weldeurdagte sin, bv. “’n Fanatiese fisikus reis terug in die tyd om die apostel Paulus te vermoor”. Mik vir uiters 15 woorde en moenie die protagonis se naam gebruik nie. Gebruik hierdie sin ook wanneer jy jou sinopsis en dekbrief skryf, dis 'n uitmuntende stukkie bemarkingsmateriaal, dis die antwoord op: "Waaroor 'gaan' die verhaal?"
 
Stap 2. Beskou jou boek as “drie rampe en ’n einde”.
Beplan dit so: Skryf ’n 5-sin-paragraaf. Sin 1 weergee die aanvangsprobleem. Sinne 2-4 beskryf die drie rampe. Sin 5 beskryf die einde. Wanneer jy jou boek begin skryf, sal elke ramp min of meer ’n kwart van die boek beslaan, en die einde die laaste kwart. Die eerste ramp kan weens eksterne omstandighede ontstaan, maar die tweede en derde moet die gevolg wees van die protagonis se pogings om sake op te los terwyl alles heeltyd erger word.
 
Stap 4. Brei nou elke sin uit tot ’n volledige paragraaf. Elkeen moet op ’n ramp afstuur, behalwe die laaste wat moet verklap hoe die boek eindig. Nou het jy ’n raamwerk of sinopsis vir jou verhaal.
 
Stap 5. Bou die sinopsis uit deur elke paragraaf uit te brei tot ’n volledige bladsy.
 
Stap 6. Gepubliseerde skrywers kan in hierdie stadium ’n voorlegging skryf en hul uitgewer nader, maar ongepubliseerde skrywers moet hulle manuskrip eers voltooi. 
 
Stap 7. Neem jou 4-bladsy-sinopsis en skryf die tonele neer wat in elke gedeelte moet verskyn.
 
Stap 8. Skryf nou neer wat in elke toneel moet gebeur, fokus op die konflik.
 
Stap 9. Gaan sit en skryf jou eerste weergawe (first draft). Skrywers wat halfpad vassteek, is skrywers wat nie beplan het nie en nou uitgeskryf is. Beplan vooraf so deeglik en goed as wat jy kan, en jy sal sien hoe jou storie verder ontwikkel en verdiep terwyl jy skryf.
 
MEI:  'n Storie moenie net 'n storie wees nie
 
 
© 2020 Skryfgeheime
 
 
Skryfgeheime-skryfskool
www.skryfgeheime.com
info@skryfgeheime.co.za
0782240454 
Facebook
Twitter
Google+
LinkedIn
Instagram
YouTube
 
 
Jy het hierdie e-pos ontvang omdat jy by Skryfgeheime
navraag gedoen het oor 'n skryfkursus.  
 
Sent by
SendinBlue