Skryfgeheime-studente word gepubliseer
Skryfgeheime-skryfskool
Maart 2020

Beste, billikste, meeste gepubliseerde studente

www.skryfgeheime.co.za
Nuusbrief-argief
Anel Heydenrych presteer by Penguin Random House
Die afloerder
 
Op Colesberg laat ’n menseslagter se gruweldade Anje Bruwer se kop duisel. Sy loop haar in sy web vas wanneer sy vir die plaaslike koerant oor sy moorde begin verslag lewer. Kaptein Siegfried Scholtz – ’n man wie se skuldgevoelens hom ry – is genoodsaak om Anje by die ondersoek te betrek.
     Anel skryf: "Ek is besig om te broei oor die volgende boek. Dit gaan weer eens 'n taai een wees." 
     Die afloerder is ’n sielkundige riller geskryf deur 'n ervare TV-joernalis. Lees meer ...  
 
Bestel Die afloerder hier
Antoinette Venter se eerste Romanza
Oudit op haar hart
 
Antoinette Venter skryf: "My eerste Romanza, Oudit op haar hart, verskyn in Maart 2020 by Lapa Uitgewers. Ek is in my skik met my poging, soms vloei die woorde mos net makliker as ander kere of val makliker reg op die blad. Vreemde verskynsel. Dalk is dit net ek wat vreemd is. Hoe ook al, hulle druk my nou vir 'n tweede."
 
Antoinette en Anel het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus gevolg. 
 
Bestel Oudit op haar hart hier
Jose Palmer deel haar Tippie-geheime:
 
Skryf was jare lank net ’n droom, as onderwyseres en ma van twee was daar net nie tyd nie. Na ek my lewensmaat 'n aantal jare gelede tragies verloor het, besluit my dogter Reinette ek moet iets doen wat sin aan my lewe gee: Ek moet  skryf. 
 
Ten spyte van my slakkegang, kondig Reinette ’n spertyd aan – die drukkers wag! En so, met  my eerste boeke in my hand, word ’n lewensdroom 'n werklikheid. Hierdie ervaring was goeie terapie vir my en het ook tot groter dinge gelei. 'n Vriendin het voorgestel dat ek die boeke na Lapa Uitgewers stuur, en sedert 2014 word Tippie deur Lapa gepubliseer en versprei.
 
Ons agtergrond. Met my 21 jaar ondervinding in buitengewone onderwys en my dogter Reinette se 8 jaar ondervinding as remediërende terapeut vorm ons ’n ma-en-dogter-span met heelwat kennis en dieselfde visie: haal die vrees uit lees. Ons glo lees moet pret wees, vaslegging van nuwe woordeskat moet toevallig gebeur, lees en leer moet volgens ontwikkelingsbeginsels geskied, herhaling van woorde maak dit maklik om te leer lees en aktiwiteite agterin die boekie versterk die vaslegging van begrippe en woordeskat.

Storie-idees. Die eerste 20 boekies in die Tippie Leer my Lees-reeks met 3-letter en 4-letter woordlyste as vertrekpunt, was moeilike skryfwerk. Om met ’n beperkende woordelys vaslegging van woordeskat sowel as ’n prettige storie te bewerkstellig was ’n groot uitdaging – ook opwindend. Vlak 3 en 4  was makliker om te skryf. Vir ons is dit belangrik dat kinders aanklank by die storie moet vind. Ons skryf dus oor alledaagse dinge met eenvoud as uitgangspunt: Tippie en die leeupark is byvoorbeeld geskryf nadat my kleinseun Reuben by die leeupark deur ’n volstruis gebyt is.

Hoe skryf ek? Die eerste en belangrikste stap: gaan sit en dink. Dink aan jou eie kindwees. Waarvan het jy gehou en waarvan hou kinders vandag nog? Maak ’n lys, kies ’n tema, gaan sit en skryf al jou gedagtes neer. Kry dan afstand. Drink tee, gesels met ’n vriendin, gaan stap of ontspan in ’n skuimbad tot jy kans sien om die gedagtes van nader te bekyk. (Moenie te lank uitstel nie! Roetine en selfdissipline is belangrik. Kies ’n tyd van die dag of nag wat jou pas en hou daarby.)
     Verander, voeg by, skrap. Stadigaan begin die teks vorm kry. Hou die kind wat leer lees heeltyd in gedagte en vra jouself af: Sal die lesers die woorde self kan lees? Sal hulle aanklank vind by die dinge wat die karakter doen? Is daar voldoende herhaling van woordeskat? Is daar genoegsame inhoud om leesbegrip te bevorder? Is die woorde maklik genoeg of gaan die lesertjies sukkel en moedeloos raak?
     Wanneer ek voel ek kan die prentjie sien en die woordkeuse is in die kol, neem my dogter as medeskrywer die teks onder oë en begin die proses voor: lees, verander, voeg by, skrap – tot sowel ma as dogter tevrede is.

Waar staan Tippie nou? Die lekkerte van saam met Lapa werk, die meer as 445 000 kopieë wat reeds verkoop is, die positiewe terugvoer van ouers en onderwysers en die entoesiasme van kinders wat met Tippie leer lees, spoor ons aan. Die eerste 10 Engelse Tippie-boeke is reeds op die rak en die volgende 10 behoort teen Julie beskikbaar te wees. Tippie het ook sy eie FB-blad. Van tyd tot tyd sal Tippie aktiwiteite beskikbaar stel wat gratis afgelaai kan word. Die magneetstel vir Vlak 1 se 10 boeke verleen pret sowel as interaktiewe leer (al dink die kind hy speel). 
 
Janie skryf:  Jose het die Prenteboekkursus onlangs voltooi en volg tans die Algemene Kreatiewe Skryfkursus. Haar Tippie-suksesse het sy en Reinette op eie stoom behaal. Geluk, Jose!
 
 
ONS WAARBORG: 
Jy werk teen jou eie pas in jou vrye tyd op 'n een-tot-een basis aan kursusmateriaal met 'n stapsgewyse opbou, van die vind van 'n idee tot en met 'n voltooide manuskrip (verhaal of artikel).
* Jy ontvang breedvoerige terugvoer op elke werkstuk deur 'n ervare, gegradueerde joernalis of 'n bekroonde skrywer-vertaler BINNE SEWE DAE nadat jy 'n skryfstuk ingestuur het.  
* Jy ontvang alle moontlike hulp en leiding om deur 'n erkende nasionale tydskrif of uitgewer  gepubliseer te word.  
* Jy geniet die gemoedsrus van ons geld-terug-waarborg. Dit beteken jy kry al jou geld terug indien jy voel jou kursus was nie die moeite werd nie.
 
12 maande en jou boek is op jou rekenaar
 
 Maak 2020 jóú jaar en skryf daardie boek wat al so lank in jou sluimer. In Januarie het jy weggespring met die vind van 'n idee wat jou lesers sal ontstem, ontstig, bekoor en/of ontstel. Nou moet jy dit verder voer. [Psssst, het jy dalkies ’n nuusbrief of twee misgeloop? Klik hier.]
  
MAART
Karakters wat merke maak
 
As skrywer moet jy jou karakters nie net deur en deur ken nie, jy moet as’t ware ’n persoonlike verhouding met elkeen hê. Sonder deeglike insig en kennis aan jou kant sal jou karakters nie op papier begin lewe nie.
     Ten einde ’n opwindende verhaal daar te stel moet die protagonis die potensiaal hê om gedurende die krisis heroïes op te tree. Natuurlik sal die karakter nie perfek en sonder gebreke wees nie, en ook nie altyd oor die uitdagings triomfeer nie. Nogtans moet sy/hy ten sterkste tot die leser spreek, kortom, die karakter (goed of sleg) moet iemand wees vir die leser sal “skree”. In die beste boeke beleef die hoofkarakter (protagonis) groei en verandering soos die verhaal ontvou en is teen die einde van die verhaal nie meer dieselfde persoon nie.
     Geen storie kan werk sonder ’n antagonis nie, daardie karakter wat ruim so merkwaardig en aangrypend soos die protagonis moet wees, dalk selfs meer so. Sorg dat daar oortuigende redes is vir die “slegte (vr)ou” se optrede sodat dit ’n waardige, oortuigende opponent is wat lesers aangryp.
     Randkarakters hoef nie so volledig ontwikkel te word nie, nogtans moet jy minstens dit oor elkeen weet: naam, van en voorletters (wat nie met enige ander karakter s’n verwar kan word nie), woonplek, beroep, grootste vrees en ambisie, verhouding of verband met hoofkarakter, belang by die verhaal.
     Stel nuwe karakters geleidelik aan jou lesers voor, m.a.w. moenie almal gelyk op die toneel plaas nie, dis oorweldigend. Skep outentieke karakters met eg menslike persoonlikhede, drange en begeertes. Uit die aard van die saak sal jou hoofkarakter uiterlike probleme moet oorkom, maar dis die innerlike konflik wat hom/haar op papier sal laat lewe. Heroïes, innoverend, inbors en krag? Natuurlik.    Maar sonder vrese, onsekerhede, persoonlikheidstekortkomings en vertwyfeling sal jou karakter nie oortuig nie. Wat wil jou karakter hê? Wat staan in haar/sy pad, uiterlik sowel as innerlik? Wat gaan sy/hy daaromtrent doen? What is sy/haar unieke rol ten opsigte van die hoofstorie?

GOUE REËLS VIR KARAKTERONTWIKKELING:
* Vind ’n foto op die web of in ’n tydskrif van iemand wat vir jou soos jou karakter lyk.
* Skep ’n oortuigende agtergrondsgeskiedenis vir jou karakter.
* Sorg vir menslikheid, kwesbaarheid, karaktergebreke.
* Sorg ook vir heroïese eienskappe.
* Wanneer jy begin skryf, stel jou karakter so gou moontlik aan die leser voor, gebruik sy/haar naam en laat blyk ’n ietsie oor die karakter se voorkoms.
* Plaas die protagonis deurgaans sentraal en openbaar sy/haar innerlike lewe (gedagtes en gevoelens) soos die storie ontvou.
 
APRIL: Laat jou storie-idee bewe
 
 
© 2020 Skryfgeheime
 
 
Skryfgeheime-skryfskool
www.skryfgeheime.com
info@skryfgeheime.co.za
0782240454 
Facebook
Twitter
Google+
LinkedIn
Instagram
YouTube
 
 
Jy het hierdie e-pos ontvang omdat jy by Skryfgeheime
navraag gedoen het oor 'n skryfkursus.  
 
Sent by
SendinBlue